Want mense is nie engele nie

In die gemeente waar ek nou bedien, was ek aanvanklik jeugdominee.  Een van my eerste projekte was T-hemde vir die kinders en almal wat met hulle te doen het.  Dit was meer as ‘n dekade gelede gedruk, maar gemeentelede dra dit steeds: wit vlerkies (hoewel ek regtig nie glo dat engele vlerke het nie) op ‘n swart agtergrond, aan die voorkant die woorde: “I am no angel,” en agterop, “just a child of God”.  In ‘n oopkop-omgewing het dit goed gewerk, en die gemeentekultuur van omarming het die tong-in-die-kies-humor aanvaar as ‘n teken van die veilige ruimte wat ons vir jongmense probeer skep.

Maar soos met die meeste dinge wat dominees aanvang, was daar ook kritiek (wat ek, bygesê, met graagte absorbeer).  Ons gee die kinders toestemming om stout te wees; ons moedig nie n heilige leefstyl aan nie.  Ek dink die hele tyd heimlik: dit is heelwat meer gesond om rekening te hou met my eie menslikheid en foute, as om te dink dat ek perfek is.

Op 21 Februarie sterf vyf polisiebeamptes en ‘n afgetrede soldaat in ‘n gewapende aanval in Ngcobo in die Oos-Kaap, en die hele land snak na hul asems oor die feite wat na die tyd onthul word: Die Seven Angels Ministry word lankal in die gemeenskap beskou as ‘n kultus, en hoewel hulle gemerk is as afwykend, kon niks gedoen word voor dit te laat was nie.  Dit laat ‘n mens wonder of ons behoort saam te stem met Thoko Mkhwanazi-Xaluva, voorsitter van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Linguistiese Gemeenskappe (CRL), wanneer sy verklaar dat die Christelike godsdiens ‘n krisis in ons land beleef.

In die dae toe die regerende party en sekere kerke onheilige samewerking bedryf het, was dit makliker om iemand as n ketter uit te kryt; en as jy nie aan die toonaangewende kerkgenootskappe behoort het nie, het jy maklik die risiko geloop om as lid van ‘n sekte beskou te word.  Die nuwe Suid-Afrika het nuwe vryheid gebring, bevorder deur ‘n konstitusie wat menswaardigheid en vryheid van keuse ondersteun, en kerke wat aan die politieke spel deelgeneem het, het ‘n dure prys betaal vir hul vorige lojaliteite.

Maar met nuutgevonde vryheid kom sagte grense en legio geleenthede vir uitbuiters.  Terwyl hoofstroom-kerke met mekaar meeding vir getalle met vermaaklike predikers en bruikbare musiek, is daar individue wat, in die naam van godsdiens, mense met insekdoders spuit of hulleself as engele verklaar, verhewe bo kritiek.

Die gebeure in Ngcobo laat by my, ironies genoeg, ‘n diepe waardering vir ons konstitusie en die regte van die kleinstes wat daardeur beskerm word: kinders moet skoolgaan, en prostitusie is onwettig, ten spyte van die individu se geloofsoortuigings.  Maar dit behoort ook elkeen van ons tot verantwoording te roep op ‘n persoonlike vlak, ongeag watter kerk (of geen kerk) ons aan behoort: ons geloofsreis met God behoort een te wees wat gekernmerk word deur beskeidenheid.  Ons hoef nie onseker te wees oor wat ons glo nie, maar die maatstawwe van gesondheid en respek behoort toonaagewend te wees.

Sektes is gewoonlik gekant teen kritiese denke, en daarom behoort ons dit te verwelkom.  Manipulasie en intimidering hoort by geen ware geloofsgemeenskap nie, isolasie en strafpraatjies is ongehoord, en bogemiddelde lojaliteit aan leiers onvanpas.  Wanneer ek hierdie riglyne toepas op my wyer geloofsgemeenskap, moet ek erken dat ons dalk met dag-tot-dag-sake die toets maklik slaag, maar wanneer ons oor moeiliker sake besin, dit ook vir ons rigtinggewend behoort te wees:  wanneer ons praat oor gay gelowiges, grondhervorming, droogte en gebed, kan ook ons baat by versigtigheid en respek.

Mense is immers nie engele nie.