Gee maar jou hart vir jou kerk

Vandag skryf ek prontuit oor my kerk. Ek is ‘n predikant in die NG Kerk. Miskien is jy in dieselfde kerk as ek, miskien nie. Miskien kan jy assosieer met my opinie, miskien nie. Maar ek hoop dat hierdie paar woorde jou sal help dink oor die kerk waarvan jy deel is.
As kind was kerk vir my vervelig, ja, en ek was soms opstandig oor die rompslomp van godsdiens. Maar ek moet erken dat daar in die kerk van my kinderjare ‘n sagtheid was, ‘n fluistering van die Gees wat my laat veilig voel het. Seker ook te danke aan die goedige ds. Raubenheimer. In my tienerjare was ek kwaad vir die kerk. Toe ek op sestien polities ‘n bewussyn kry, was ek geskok toe ek in die NG Kerk se geskiedenis die bydrae tot die instandhouding van apartheid moes vind.
In my vroeë twintigs, met die ligte las van roeping op my skouers, soek ek dus naarstiglik na ‘n geskikte pad deur die teologie-woude. Ek hop rond, besoek tientalle kerke. Ek lees en soek en ondersoek die grondbeginsels van verskillende kerke. En kies op die ou end, met baie gebed, maar ook met baie kopwerk, ‘n kerk waarvan ek met die teologie kan saamleef. Ironies dat een van die min kerke wat my roeping tot vrou in die amp tot ‘n mate kon ernstig opneem, juis die een was wat my in die verlede so teleurgstel het.
Daar het ek besef: ek moet die verandering wat ek so graag wil sien, wéés. Op die ou end is ‘n instansie of organisasie net ‘n versameling individue. Ek kan nie kla oor ander mense se foute en swakhede as ek nie in hulle skoene geloop het nie. Ek kan maar net doen wat binne my ruimte is om te doen volgens my oortuigings. Soos die goedige ds. Raubenheimer gedoen het.
Ek verstaan dat sommige van my generasie die NG Kerk verlaat het. Ons moes heelwat paradigmaskuiwe in klein tydgleuwe hanteer. Om die NG Kerk te vergewe en weer te vertrou was nie bo-aan baie mense se prioriteitslys nie. Selfs vir ons wat oorgebly het, bly daar ‘n skraapsel agterdog, ‘n wantroue in enige iets wat lyk of dit ou magstrukture wil ondersteun.
‘n Week of wat gelede sit ek toe as toehoorder by die Terugblik op die Waarheids-en Versoeningskommissie se Geloofsgemeeskappe-verhoor in 1997, met die Arch self as voorsitter. Langs my sit my jonger kollega, ook ‘n vrou – ‘n toonbeeld van die hoop wat ‘n nuwe generasie vir ons Boetman-middelkinders bring. Maar ons is beide op ons senuwees as die Algemene Sinodale Kommissie van ons kerk hulle spreekbeurt neem, kort na middagete. Wat sou ons nou kon sê oor versoening en nasiebou vanuit geloofsgemeenskapsperspektief? En dit na ander kerke se getuienisse vanuit onbesmette verledes, terwyl ons nog so stoei met eenheid in ons eie kerkfamilie.
Oor die inhoud van wat gesê is, kan jy gerus meer gaan lees (gaan kyk by Die Kerkbode Aanlyn, 16 Oktober): Prof. Nelus Niemandt (moderator) verwoord hoe die WVK ‘n draaipunt in die NG Kerk se geskiedenis was: dit het gehelp dat waarheid nuwe vryheid bring. In 1998 verwerp die Algemene Sinode apartheid in sy wese, en begin die NG Kerk se pad na ekumeniese herstel. Dit was en is steeds ‘n pynlike pad wat diepe selfondersoek en prysgawe verg. Maar daar is hoop.
Met terugblik kan ‘n mens is in die werk van die Algemene Sinode sien hoe God met ons besig is. Natuurlik kon dinge op verskeie wyses uitgespeel het, en ons sou steeds God se hand kon sien. Maar ek het gesê hierdie is my opinie. En wat ek nou op terugkyk, is vir my goed: Die roepingsverklaring van 2002, met die klem op genesing; die verbintenis tot diensbaarheid in 2007; die seisoen van menswaardigeheid wat in 2013 afgeskop het. ‘n Mens sou al hierdie dinge as dooie dokumente kon beskou, as jy die individue daaragter wil miskyk. Maar as gewone dominee in ‘n gewone gemeente wil ek sê: ek beleef hierdie dinge tussen my mense. Die Here het ons nooit gelos nie, en is steeds met ons baie besig.
Meer as wat die ASK gesê het, was ek diep geraak deur die wyse waarop hulle dit gesê het. Hulle manier het getuig van nederigheid en diensbaarheid sonder om verleë te wees oor wie hulle is: Afrikaanssprekende mans, op die ou end. Soos die goedige ds. Raubenheimer. Ek was so trots.
Hier is my pleidooi, dus: gee jou hart vir jou kerk. Maak nie saak watter kerk dit is nie. Lees oor jou kerk se geskiedenis, en soek die mense en hulle stories tussen die lyne. Hulle was almal net individue wat hulle bes gedoen het. Hulle het wonderlike dinge gedoen, en foute gemaak – geen kerk is perfek nie. Lees oor jou kerk se teologie en beginsels, toets dit, neem deel aan gesonde debat. Bid vir jou kerk en haar leiers. As jy deel is van die NG Kerk, gaan stem tog in hemelsnaam wanneer jou gemeente jou kans gee om te stem oor Artikel 1 van die Kerkorde. Maak nie saak wat jy stem nie, jy het ‘n kans om deel te neem. As jy buite die kerk staan – dis jou keuse. Maar ek weet God gaan nog baie doen in en met en deur die kerk. Moenie dit mis nie.

Lekker eet met God se guns

Ek kyk kookprogramme op televisie.
Die mense wat my van jongs af ken, sal dink ek jok. Beskou dit dan maar as bieg, maar dis waar. Dit het natuurlik begin met Masterchef – die Aussies, van alle mense. Toe ontdek ek die Suid-Afrikaanse weergawe, en dis beter. (Die nuwe reeks begin binnekort, jy mag dit nie mis nie.) Maar tot my eie verbasing ontdek ek: ek kyk nie omdat dit realiteits-televisie is nie, dit gaan nie regtig oor wie wen nie. Dit gaan oor die kos.
Nigella was ‘n openbaring van inspirasie, om die minste te sê. Ek kyk selfs haar ou programme weer. Jamie maak my bang, dis te ingewikkeld. Die Contessa laat my koud. Nie oor haar as persoon nie, maar oor die kos wat sy maak. Maar Jan maak dat ek wil braai. En wie kan dan nou weerstaan as Nataniël so aanmoedigiend praat, nie net met my as kyker nie, maar met die goedjies in sy pot? Ai, dis pragtig.
Toe gee iemand vir my ‘n resepteboek persent. Ek sluit by aan by die honderde duisende lesers wat van resepteboeke die wêreld se topverkoper-leesstof maak. Met resepteboeke deesdae op my bedkassie tussen Bybels en kommentare, besef ek dis tyd om eerlik te raak met myself. Want hoe het dit gebeur?! Om kos te maak, wat nog te se suksesvol of lekker of mooi kos te maak, was nie oorspronklik een van my doelwitte nie. Ek het gedroom van liedjies maak en boeke skryf, nie kreatief wees met bestanddele nie. As kind het ek geen belangstelling in ‘n kombuis getoon nie, en as tiener kon ek ‘n blikkie tuna oopmaak, dis al.
Het die modegier my meegesleur? Dis moontlik. Met hele afdelings in boekwinkels (van my gelukkigste plekke) en hele kanale gewy aan chefs, is die glanskosbedryf sekerlik toonaangewend in populêre kultuur. Is dit bloot omdat ek moes grootword, en die realiteit van grootmens-wees beteken jou gesin moet eet, en iemand (dikwels ek) is hiervoor verantwoordelik? Dalk, maar ‘n mens kan dag na dag gesinskos maak sonder dat dit vir jou opwindend of kreatief is. Is dit omdat die uiteet-kultuur ook my generasie werkende ouers se alledaagse werklikheid geword het? Omdat ek bevoorreg genoeg is om in ons land se kulinêre hoofstad te woon? – ‘n mens kan nie onaangeraak restaurante vergelyk hier in die Kaap nie, hulle kompeteer met te veel passie.
Al hierdie redes het sekerlik bygedra tot my – deesdae meer as matige – opgewondenheid oor kosmaak. Maar ek ken ook my eie hart. Ek weet dat iets wat so diep bevredigend is, ‘n diep wortel het. Dit het te doen met die heerlikheid van die alledaagse, die dankbaarheid oor eenvoud. Iets hiervan weerklink in Prediker 9: “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, die lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wereld. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen.”
Net die nuus van die afgelope week laat my voel ons almal speel in ‘n absurde toneelstuk. Soms is die seer en probleme van hierdie lewe byna ondenkbaar, wat nog te sê verstaanbaar. Soms voel dit of die lewe tot niks kom nie.
Maar selfs op sulke dae het die meeste van ons kos om te eet. Brood en wyn was vir die antieke Midde-Oosterling simbolies van ‘n vergenoegde lewe, al reeds ‘n teken van God se guns. En ons as Nuwe Testamentiese gelowiges ken Jesus en sy oorwinning, ons is met God versoen, ons weet op ‘n spesiale manier dat Hy goedkeur wat ons doen. Selfs in die moeilikste tye kan ons wit klere dra, ons hoef nie te rou nie. Ons kan tafel dek vir die mense in ons lewe, kos – al is dit eenvoudig – met liefde en kreatiwiteit voorberei, en dit saam geniet.
Ons het ‘n lewende hoop, en al kan ons nie die konflik in die Oekraïne of Gaza oplos of die ekonomie eiehandig verbeter nie, kan ons doen wat ons hand vind om te doen, van harte asof vir die Here. Dis nie oppervlakkig of hedonisties nie. Dis die gesindheid van ‘n Godskind wat in afhanklikheid en dankbaarheid leef.

So goed soos vakansie

Ek wil nie twee dae na mekaar inrig wat dieselfde is nie. Ek wil nie dieselfde kos eet nie, want elke dag het sy eie honger. Ek wil nie dieselfde klere aantrek nie, want party dae voel rooi en ander blou. Ek wil nie dieselfde musiek hoor nie, want elke sonop het sy eie klanke. Ek wil veral nie dieselfde dinge doen as gister nie, en ook nie op dieselfde tye as gister nie. As dit gebeur, ruik ek roetine. En as ek roetine bespeur, is daar ‘n rebelse klein dogtertjie binne my wat haar stemmetjie verhef.
Maak nie saak hoe ek haar dissiplineer nie, sy sal aanhou haar voet stamp totdat ek iets aanvang om haar stil te maak: poniesterte maak vir ‘n ernstige vergadering, van my besittings weggee vir iemand wat dit nodig het (maar eintlik wou ek dit nog gehad het!), of om middernag klavier speel.
Ek ken haar van jongs af – sy is maar so. Sy hou nie van roetine nie. Verveeld wees is haar grootste vrees, veral as mense hulself so ernstig opneem terwyl hulle verveeld is. Sulke mense beskou hulleself as belangrik, maar dogtertjies weet eintlik wat is belangrik: genoeg tyd om blomme te ruik, om te draai as jy ‘n rok aanhet (heerlik!), en om te hoor wat mense sê wanneer hulle nie praat nie.
Die dogtertjie binne my moes teen wil en dank saamkom terwyl ek grootgeword het. Sy moes leer: as jy wil presteer, moet jy hard werk. As jy hard werk, vlieg tyd. As tyd wil vlieg, moet jy dit met wysheid gebruik, en dan is roetine ‘n goeie keuse. As ‘n mens elke oggend vroeg opstaan, hoef jy nie so hard met jou lyf te raas op die dag wanneer jy dit wel moet doen nie. ‘n Goeie roetine help ‘n mens om energie reg aan te wend. Maar hier erken ek dit nou: na ‘n rukkie voel die goeie roetine vreeslik ernstig, so asof dit die enigste manier is om ‘n ding te doen. En dan pluk die Prediker se melancholie aan my mou: “Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wereld nie.” (Pred. 1:9)
Die grootmenswêreld kan egter nie ‘n dogtertjie se liefde vir vryheid wegneem nie. Dit het haar geduld geleer: as sy net ‘n rukkie wag, kry sy weer ‘n beurt.
Sommige mense word gebore met ‘n voorliefde vir roetine. Dit laat hulle veilig voel. Alle mense raak verknog aan roetine as hulle babas kry: dis net onmoontlik om als gedoen te kry sonder ‘n taakplan wat herhaal. My eie sewejarige geniet skool, maar daar is soms ‘n gelatenheid op sy gesiggie as hy vir die vyfde dag in ‘n ry moet vroeg opstaan en dieselfde klere aantrek en nie dadelik kan buite speel nie. Miskien word ‘n gevestigde roetine deel van ons gevoel van sekuriteit hoe meer ons ouer word – ek vermoed dis omdat ons meer van die lewe se grootheid en broosheid verstaan, en ons gedagtes daarmee besig is, dat ons elke dag op dieselfde tyd op dieselfde stoep wil koffie drink.
Miskien bring jou roetine vir jou ‘n stuk vrede en rustigheid. Dan is ek bly vir jou. Maar gun my om dit net een keer reguit te vra: is dit ‘n swaarmoedige roetine? Is jou gedagtes vol kommer – oor die petrolprys, die politiek en die pype wat nie reggemaak word nie? Tereg, dit is ernstige sake wat ons aandag verdien, en waaraan ons kan verandering bring ten goede, moet ons hard aan werk om te kan presteer. Maar bekommernis kan nie eens een el by jou lengte voeg nie.
Te veel kere is ons westerse erns oor ons werk, oor al ons take en ons doelwitte, ‘n sorgvuldige masker wat ons eiebelang en materialisme moet verbloem. Ek dink ons verbeur ander dinge wat belangrik is: “Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom.” (Pred. 3:22)
Ek nooi maar net saam met die kind in jou hart: jy sal nie vandag tyd mors of minder presteer as jy ‘n paar minute neem om God se skepping te waardeer nie. Neem vandag nog die foon en bel ‘n vriend met wie jy lank laas gepraat het. Probeer ‘n nuwe resep, ry ‘n ander pad, sing hardop wanneer jy wil. Wie weet, dalk bring ‘n kreatiewe breuk in die dodelike roetine ‘n blink idee as oplossing vir daardie groot probleem in jou gedagtes.

Oor oggendlig en lente

Seisoene verander nie altyd soos ons wil nie.

As kind leer die juffrou jou mooi die liedjie:
“Lente, somer, herfs en winter
Vier seisoene in die jaar
Lente, somer, herfs en winter
Vier seisoene agter mekaar.”

Maar die oorgange tussen seisoene is selde so liedjie-glad. Hier in die Kaap het dit hierdie jaar gelyk of die winterreën gaan aanhou tot in die somer. Mense is al maande lank moeg vir hul wintersjasse en waterstewels, ons weet nie meer of dit winterverkoue of lentegriep is wat die kinders het nie, en die boere kry nie gedoen wat hule moet nie – dis te nat. En tog maak hierdie lente van die mooiste foto’s ooit: sneeu op die berge, blomme in die voorgrond.
Ek weet ook nie of ‘n mens dit lente kan noem nie, want September was al heeltemal verby, en dit was bibberkoud tot verlede week. Regtig. Nou, skielik, is dit sommer warm – somerwarm. My familie in die Karoo is opreg bedruk oor die droogte – nog geen vroeë reën nie. En in Bloemfontein word lente ingelui met sonsverduisterende stofstorms en wat jou hart laat ineenkrimp ter wille van die perskebloeisels.

Vir wat skryf ek dan nou so oor die weer?
Ek maak nie net praatjies nie; die weer laat my dink. Daar is immers min faktore in ons lewe wat so ‘n invloed het op ons dag-tot-dag-bestaan. Dit is ‘n metafoor vir soveel: die fases van ‘n mens se lewe, die mate van energie waarmee ons take tegemoet gaan, die stand van jou siel.

Jesus wys sy volgelinge op die verband tussen insig in seisoene en insig in geestelike dinge: ons kyk na die bome in die veld en kan sien as die seisoen verander. Hoe sal ons dan nie die geestelike seisoene ook onderskei nie?
Geestelikes skryf al eeue hieroor. Plaaslik het Riaan van der Merwe onlangs ‘n boek hieroor die lig laat sien: Seisoene vir die Siel (‘n aangename klein verrassing, die boekie). Hierin is wonderlike rigtingwysers en gepaste geestelike dissiplines om ons te help onderskei wat met ons gebeur.
My ervaring: ek weet seisoene is onontbeerlik. Maar ek hou niks van winter nie. My neus en tone is die hele tyd koud, ek moet baie energie, selfs emosionele energie gebruik om warm te bly, om eenvoudige dinge gedoen te kry. (Hiervoor blameer ek my suid-europese voorouers.) En in geestelike winter, hoewel ek weet dis nodig om te rus, om te genees, om te wag, sien ek ongeduldig uit na die blomseisoen vir geloof en liefde. Ek smag na somervrugte en wil daarom soms dinge ryp druk: mense se begrip vir God of mekaar, samewerking in groepe, vrywilligers se betrokkenheid by gemeenskapsprojekte. Ek raak veral ongeduldig met myself: hoe kan ek dan nou weer oor dieselfde dinge tob en bekommer, hoekom beleef ek dan vandag weer gister en eergister se hartseer as ek weet God skenk genade en vreugde, hoeveel keer gaan ek op my spore terugloop in vrugtelose sirkels?

Gelukkig het die beproewinge van winter vir my geduld geleer – het die Here nie beloof geduld is deel van die vrug nie? – en wag ek deesdae met groter wysheid op lente.
Toe ek dus in hierdie week een oggend baie vroeg moet opstaan, gaan proe ek die oggendlug buite. Behalwe vir die hooikoors wat toeslaan, het ek toe ander gewaarwordinge: dit het ‘n week laas gereën. Die son wil-wil begin lig maak, en dis skaars vyfuur. En die akkerboom het lankal nuwe blare, maar vanoggend is hule trots op hulle kleur – dit is immers die mooiste groen in die hele wêreld.
Ek hoor my Heer fluister: “Die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op ‘n vaste tyd terug” (Jeremia 8) – dit sal op die regte tyd beter gaan. “Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les” (Jesaja 43) – God gee altyd nuwe hoop en liefde, ons sal nie vir altyd smag nie. “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd” (Prediker 3) – alles is soos dit moet wees, ons kan vrede hê.
Ek het in my wintergroef geploeter van dag tot dag, naderhand afgestomp van wortelwerk doen. Maar skielik is dit lente, en God maak alles nuut.

“Ons Heer het die belofte van die opstanding nie net in boeke geskryf nie, maar in elke blaar in die lentetyd.” – Martin Luther.

Die verskil tussen vakansie hou en rus

Daar’s ‘n verskil tussen vakansie hou en rus.
Ons almal is eintlik vaagweg bewus daarvan: die eina-ironie van ‘n gejaagde lewe wat met ‘n spoed afstuur op twee weke van “rus” aan die einde van die jaar. Daardie selfde twee weke bevat Krismis, familie, reis tot by ‘n vakansiebestemming en dan in ‘n vreemde bed slaap, te veel gemorskos en ontwrigte troeteldiere.
Daarom het die herinneringe aan die wintervakansies van my kleintyd nooit hul bekoring verloor nie: eenvoudige warm kos, ‘n goeie boek, baie tennis op die televisie. Miskien ‘n legkaart of bordspeletjies met familie. Daar is familie in die prentjie, ja, maar min verwagtinge. ‘n Heerlike, aanloklike prentjie.
Daarom het ek vroeg-vroeg in die bediening besef dat ek ‘n stewige stuk van my jaarlikse verlof liewer in die winter neem. En, dankie tog, niks het ook hierdie jaar my warm winterprentjie versuur nie. Ek het egter ‘n paar ander dinge agtergekom van vakansie hou:
1. ‘n Mens kan vakansie hou sonder om te rus. Glo my, dit het ek al baie gedoen. Dit gebeur as ‘n mens toelaat dat ander mense jou voorskryf of beheer tydens vakansie – onvermydelik slegs as jy klein kindertjies het. Dit gebeur ook as die perfekte prentjie van vakansie wat jy in jou kop het, verwagtinge stel aan die werklikheid wat net nie kan gebeur nie. Reisagente en vakansieplekke is so goed hiermee: hulle verkoop ‘n prentjie van ‘n ideaal.
En ons koop daardie prentjie ten duurste. Lang, sonnige dae op afgeleë strande; skemerkelkies tydens sonsondergang in die Bosveld oor die groot vyf wat almal tegelyk water suip; pragtige paartjies wat in harmonie draai op ‘n dansvloer. Die onderskrif van hierdie ideale prentjie is: ONTVLUGTING.
Toegegee, elke vakansie moet seker ‘n lekker stuk ontvlugting he. Maar behalwe vir die halwe waarheid van die prentjie (daar is sonsteek, muskiete, en huweliksmaats wat nie dans nie ook met vakansie) is daar ‘n ander, groot waarheid weggelaat: ontvlugting is nie rus nie. En bewustelik rus is nie net ontvlug nie. Die spiraal van spanning wat in ons opbou, breek nie as ons net ontvlug nie, ons het nodig om te rus.
2. Ons is dom met rus. Ons is goed met ontvlug, besig bly met lekker dinge. Ons is dalk selfs goed met lui wees en niks doen. Maar ‘n mens neem jouself oral saam, en bewustelik rus eis bewus wees van jou eie moegheid, swakheid, selfs jou eie sonde. Bewustelik rus beteken dan ook dat ek tot rus sal kom in God se liefde vir my en alle mense, dit behels ‘n nuwe besef van Sy genade. En hierdie is nie goeters wat reisagente verkoop nie.
Want sien, eintlik wil ons rus vermy. Ek was ook so. Ek wou nie rus nie, ek wou presteer sodat ek kan verdien. Ook my vakansie. En dan kom ek moeg terug.
Dankie tog, hierdie jaar het ek voor my vakansie afgekom op pragtige eenvoudige geskriffies van Broeder Lawrence, soos opgeteken deur Joseph de Beaufort in die sewentiende eeu. En hierin verduidelik die eenvoudige monnik so mooi hoe hy lewenslank hom in die teenwoordigheid van God ingeoefen het, hoe Hy sy daaglikse lewe as soldaat en kok en skoenmaker saam met die Here gelei het. En ek het begin oefen: in my stiltetyd, tydens aanbidding in die kerk, maar ook as ek my motor bestuur, in ‘n ry moet wag, of langs die see stap. En om te oefen om die teenwoordigheid van die Here bewustelik te besef, maak my rustig. Dit bring ongekende kalmte: ek hoef nie altyd te presteer en te verdien nie; ek mag maar glo dat God my liefhet omdat Hy die bloedprys betaal het vir ons saamwees; die wêreld is stukkend maar alles is tog presies soos dit moet wees. Dit is Sabbatsrus.
3. ‘n Mens hoef nie vakansie te hou om te rus nie. Hierdie is ‘n wonderlike ding om te ontdek. Verlof is fantasties, want dit breek die roetine. Maar rus… rus is my daaglikse brood, my vars asemteug. Dit gee ek nooit weer prys nie.

Enige gegewe Sondag

Elke Saterdagaand is dit dieselfde storie. Hoekom doen ek dit aan myself?
Elke persoon wat al op ‘n Sondag moes preek, weet waarvan ek praat. Die simptome slegs waarneembaar vir die oplettendes by die rugby/braai/fliek/kuier, maar die prediker se huisgenote ken dit goed: stemtoon net ‘n fraksie te hoog, oë wat kyk maar nie sien nie, gedagtes die hele tyd op ‘n ander plek. Later die nag speel dit in volle swang uit: die slaaploosheid, die marsjeer in die gang, rooi tee om twee-uur soggens, die drome as ek wel slaap: my stem is weg, die gemeente daag almal met hoede op – wat? – ek kry ‘n pap wiel en is laat vir kerk maak nie saak hoe ek probeer daar uitkom nie. Die verligting as die oggendlig verskyn en die aantrekroetine kan begin.
‘n Gebrek aan voorbereiding kan dit nie wees nie: die teks is oor en oor gelees en bestudeer, als is neergeskryf wat moet wees, illustrasies en grappies op Powerpoint en geoefen. Dis net dat voorbereiding nie daar stop nie.
Dis ook nie die gewone vrees van praat voor mense nie; in my bediening van ‘n skrale vyftien jaar moes ek dit al duisende kere doen, en het al honderde kere foute gemaak en my naam met ‘n plank geslaan. Daardie is deel van die werk, daarmee maak jy vrede wanneer jy skaars begin. Die vlinders is nie oor wat mense van my mag dink nie. Daar’s niks fout met my selfvertroue nie.
Dis omdat preek alles eis, jou volle menswees. Dis omdat ek glo wat ek sê, omdat ek opgewonde is daaroor. Omdat ek so graag wil hê my mense moet nie net hoor nie, maar ervaar. Dis omdat ek hulle ken, hulle stories en seer en vreugdes, en dis op enige gegewe Sondag (Any Given Sunday) uiteenlopend en wonderlik en verskriklik. Dis omdat ek hulle liefhet, en God se liefde vir hulle ervaar. Dis omdat ek weet dat hulle die Here liefhet en soek en omdat ek in daardie verskriklike uur Sy Woord moet beliggaam. Die verantwoordelikheid is net te veel vir ‘n sterfling.
Die prediker Walter Wangerin jr. skryf hieroor in ‘n blog wat hy al in 2005 gepubliseer het: Why I pace before I preach, en sedertdien lees ek dit dikwels en lag elke keer. Dit troos my dat andere van my armsalige bedreigde spesie dieselfde simptome toon. Sommiges steek dit beter weg as ander, en kan sonder skroom ‘n koppie tee geniet na die diens en vrolik met nuwe lidmate kuier. Soms kan ek ook. Maar dikwels stort ek eers in duie as die diens verby is, sit sommer plat net daar op die kansel en kruip eers vir vyf minute weg. En in daardie vyf minute het ek en die Here na vyftien jaar soort van ‘n ooreenkoms bereik.
Dit het begin met ‘n klein teks waarmee ek my lot by God bekla. Spreuke 10:19a: Met baie praat bly die sonde nie uit nie. En ek sê: Here, ons wat praat en preek vir ‘n lewe het mos dan nie ‘n kans nie. Tussen die Woord is daar my woorde, mensewoorde, en sommige is leeg of beperk en ander is onvolwasse of ondeurdag. En dan antwoord Hy: Nie met mag of krag sal Ek slaag nie, maar deur my Gees. En dan vra ek weer, soos vroeër daardie oggend met sonsopkoms: Werk dan met U Gees, Here. Dié woorde wat moet bly, bind hulle vas in ons harte. En dié wat sinneloos of ontydig is, laat hulle wegvlieg soos voëltjies, soos ‘n vloek wat ons nie verdien nie (Spreuke 26:2).
En Sy daaropvolgende antwoord is altyd dieselfde en vertroostend: Hy het sy mense lief, liewer as wat ek hulle kan hê. En ek kan nou maar ontspan, want ek is maar net een van hulle. En ek mag maar praat en preek, al is ek net ‘n mens, want stilbly sal ek nie kan nie. Hy het immers my mond geraak met die gloeiende kool van Sy passie vir ons.

Words can’t say what love can do

Jon Bon Jovi

That’s the face we saw all evening (even if from afar, depending on where you were seated). Smiling, singing, back in South Africa after eighteen years. That’s the face of good clean fun.

We heard the new album, but also all the old hits from the pen of the songwriting Hall-of-Famer: It’s My Life, Bed of Roses, Bad Medicine…

The wonderful thing about classic rock like this, done well following the same recipe for thirty years, is that it makes you feel good. It’s uplifting and affirming. And it’s so inspiring to see the old boys doing it (not to mention all the old girls in the audience!).

So even if we all got to bed a little late, let’s carry the smile today.

with a heart like an open highway
bloublokkie