Een voet voor die ander

Hardloop was nog altyd onder aan my lysies. Al my lysies: prioriteitslys, doendingelys, inkopielys. Ek het talente van die liewe Here ontvang, genoeg om my mee besig te hou, maar hardloop was nog nooit een van hulle nie. Ek was altyd laaste by die verpligte atletiek in die laerskool, en later jare kon ek maklik die sportperiodes in die musiekkamers deurbring. Net die goddelose hardloop as hy nie gejaag word nie, het ek grappenderwys die Bybelversie verdraai (Spreuke 28:1).
Tot na ‘n sekere beduidende halfleeftyd-verjaarsdag. Ek het een oggend opgestaan en aangekondig: vandag koop ek tekkies. Want toe moet ek erken dat ek al maande lank droom van draf. Nie dagdroom nie, regte nagdrome. In my drome het ek kilometers kafgedraf langs strande, oor bruggies en deur tuine, my woede en seer op teerstrate uitgetrap, totdat die skuif in my lewensfase begin gemaklik voel het.
Let wel: tot sover was dit drome. Die regte-egte ding is bietjie anders. Daar was unieke uitdagings: my voete is baie klein en proneer verkeerde kant toe, my longe is gewoond aan stap en glo vas hulle gaan doodbrand as ek vinniger as vyf kilometer per uur beweeg. Ek wil hardloop maar ek weet nie hoe nie. Nee regtig, dis nie net vir een voet voor die ander sit en en dan vinniger nie. Dis ‘n vreeslike tegniese storie, jy bou sterkte en uithouvermoë en dit alles terwyl jy verhoed dat jy nie seerkry nie – op my ouderdom nogal belangrik.
En nou kan ek erken: ek was lank laas so trots op iets. Niemand anders gaan ‘n oog knip oor my vyf kilometers op ‘n slag nie, maar vir my is dit verstommend, want ek weet waar ek begin het. Ek weet wat dit my gekos het aan vroeg opstaan, bietjies-bietjies vorder en pyn in die knieë. Ek weet wat dit vir my beteken: daardie heerlike kopdraai-gevoel na die oefening, die ervaring dat ek iets nuuts bemeester, dat ek teen myself kompeteer en verbeter.
Natuurlik hardloop ‘n mens se kop ook terwyl jy draf. Ek het lang gesprekke met die Here. Ek dink kreatiewe oplossings op probleme uit. Soms is ek te moeg om te dink. Maar ten einde laaste verstaan ek hoekom Paulus ons geloofspad op meer as een plek in die Bybel met ‘n resies vergelyk. En net na ‘n pretdraf saam met my gemeentelede pen ek die volgende neer:
die rooi skoene
*Die eerste tree is die belangrikste. Ek lig my van daardie rusbank van apatie, ongesonde gewoontes en selftwyfel, en ‘n hele nuwe hoofstuk begin. God glo soms meer in my as wat ek in Hom glo. Ek moet net opstaan en iets doen.
*Ek is nie alleen nie. Drawwers groet mekaar (fietsryers en swemmers ook, bygesê). Ons is bewus van diegene wie se paadjies ons s’n kruis, soms daagliks. Ons takseer nie mekaar op uiterlike nie, want jy ken nie die ander se storie nie. Soms kom die dikkerige oom verbygeskiet, ander kere is dit nie stokou tannie wat voor jou klaarmaak. Jy kan nie iemand se fiksheid en vermoëns meet aan hoe hulle lyk nie. Net so werk die geloofslewe: ons oordeel nie mekaar nie, ons behandel elkeen met respek.
*Ek doen wat ek kan. Gesondheid, goeie keuses en hoop is soms belangriker as wen. Ek moet vandag net my paadjie draf, ek hoef nie iemand anders se treë ook te gee nie. Net so kan ek nie eiehandig hierdie week die land se kragkrisis oplos en die toestand van die nasie verbeter nie. Maar ek kan met integriteit leef, hard werk en aanhou bid.
*Aanhou is belangrik. Ek kan nie ophou as ek moeg voel nie, ek moet ophou by die eindstreep, by die kilometerdoelwit (of by die volgende lamppaal). Soms ervaar ons ‘n toets in ons geloofslewe en wil dan sommer tou opgooi. Om aan te hou glo is dan net so belangrik soos ‘n oorwinning en ‘n trofee.

Niemand kyk as ek draf nie, ek gaan nooit ‘n wedloop wen nie, en dit gaan dalk nooit ‘n groot invloed op enige iemand hê nie. Soms voel my geloofslewe ook niksseggend en onbelangrik. Dan herinner die Hebreerskrywer my (in hoofstuk 12 vers 1 en 2) dat ‘n skare geloofsgetuies my aanmoedig, en dat Jesus self by die wenstreep wag. Genoeg vir my.
“Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde.” 1 Tim 4:8