Niks wat sleg is, is permanent nie

2020 is verby, maar die kollektiewe depressiewe episode waarmee ons die jaar afgesluit het, is verleng. Dit voel nie eens meer soos ‘n episode nie, dit voel soos volskaalse permanente terneergedruktheid.

Sjoe, mense kry swaar. Geen beskrywing nodig nie: die verlies wat kom met siekte en afsterwe, finansiële druk, verhoudingsprobleme en bloot inperking, regverdig vele paragrawe.

Ek drink koffie saam met ‘n vriend wat terugtrek na sy ouers toe (lyk my dit is ook nou volop; families moet mekaar maar help). Hy het sy werk in die hotelbedryf drie maande terug verloor, en vind nie ‘n alternatief nie. Ek was voorbereid om hom op te beur, moed in te praat, maar dit was toe nie nodig nie. Ek deursoek die gesprek vir intense teleurstelling, skuldgevoelens of blaam, en vind dit nie: hy is miskien ‘n bietjie gelate, maar heeltemal bereid om die opoffering te vat. Hy het selfs planne vir tuinmaak en ‘n bietjie geldmaak daarmee saam, om die las op sy ouers te verlig.

Hy vertel my van sy pa se mantra waarmee hy grootgeword het: niks wat sleg is, is ooit permanent nie. This too shall pass in pappa-woorde. ‘n Stewige skans teen die entropie van die lewe, opgewerp om ‘n kind toe te rus vir die lewe. En dit het gewerk, klaarblyklik. Want sy kind kom huis toe onder slegte omstandighede, maar nie hooploos nie.

Ek stap so trots daar weg.

Soveel het al reeds verander. Ons het almal agtergekom ons kan met minder klaarkom. Minder jaag, minder koop, minder eis. Ons het almal agtergekom dat jy jou kopspasie moet oppas, en goeie verhoudinge moet koester (of ‘n plan moet maak met die slegtes). Maar die tweede golf en die gepaargaande inperking kan ons nog duur te staan kom. En dit kan herhaal, en ons frustrasie met die virus en die regering verhoog, en die langdurige terneergedruktheid verleng.

Voorraadopname: dit is wat dit is. Dis moeilike tye. Dis onvermydelik. Maar ons is nog hier. Dalk juis vir tye soos hierdie. Ons is nie die eerste gelowiges wat moeilikheid moet trotseer nie.

Ek wend my na Paulus se briewe aan Timoteus, uit die gevangenis geskryf aan ‘n jong leerling wat nog die mas moet opkom. Bid, skryf Paulus, bid veral vir die regeerders, sodat ons ‘n rustige lewe kan lei in eerbaarheid. Oefen jouself om in toewyding aan God te lewe. Hou op voorbeelde soek, wees ‘n voorbeeld, al is jy jonk. Dra jou deel van die ontberings; as jy aanhou saai, sal jy jou deel van die oes kry. Onthou altyd: Jesus leef. Daarom is niks wat sleg is, permanent nie.

Ek is so trots op elke stukkie hoop wat ek teëkom te midde van al mense se swaar in hierdie tyd. Hulle pak dit uit soos ‘n enkele kosbare besitting, en verwag dat ons dit moet waardeer. Daarom moet ons wat leiers is, nie nou toegee aan hooploosheid nie. Ons moet nie ons genadegawes verwaarloos nie, maar dit nou met uitmuntendheid beskikbaar stel. Ons moet nou harder werk as ooit tevore.

Intussen reën dit die land deur. In ‘n droë land soos ons s’n is dit ‘n herinnering dat die seisoene draai, die droogte breek, die lewe voortgaan. This too shall pass.

Lewer kommentaar