Hi, I’m Bob. I’m a goldfish…

Gedurende die afgelope vakansie leer my elfjarige niggie vir my ’n rympie.  Dis aansteeklik, en ek waarsku jou: as jy dit gaan hardop sê is die stryd verlore.  Die klein skepsel is duidelik besig met ’n poging om die wêreld oor te neem.  So hier is dit:

“Hi. I’m Bob.  I’m a goldfish, and a goldfish has no memory and…Hi.  I’m Bob.  I’m a goldfish, and a goldfish has no memory and…Hi. I’m Bob.  I’m a goldfish…” Herhaal ad libitum ad infinitum, of totdat die lagbui uitbars.  Laasgenoemde gebeur redelik vinnig wanneer kinders saamspeel.  Ook as ‘n mens ‘n bietjie houding byvoeg, amper soos ‘n knippie sout:  ‘n deeglike ritme met dalk ‘n bietjie knieknak of heupwikkel. (Ek giggel ook elke keer as ek dink aan hoe dit in Afrikaans sal klink… “Haai. Ek’s Gert.  Ek’s ’n goudvis, en ’n goudvis het geen breinselle nie…”)

Ek weet nog steeds nie of alle visse soos Dory optree nie.  Koi-eienaars kondisioneer hulle visse tot klokkies lui vir vlokkies, en Culum Brown van die Macquarie Universiteit beweer dat visse meer intelligent is as wat hulle lyk: hulle onthou waar hulle predatore teëkom en vermy daardie plekke vir maande daarna.  Maar ek kan nie ophou dink aan Bob nie, miskien omdat ons net soos hy optree.  Ons leer nie.

’n Mens sou dink dat ons westerse kultuur se ingesteldheid op oorsaak en gevolg ons darem al ’n paar dinge laat insien het.  Maar ten spyte van wat die geskiedenis ons wys, maak ons oor en oor dieselfde foute:  ons dink oorlog los probleme op, kies oor en oor ’n kêrel wat ons sleg behandel, en stres elke Januarie oor geld omdat ons te veel spandeer in die vakansie.

Is dit ons naïewe geloof dat dinge volgende keer sal uitwerk wat ons so laat optree?  Jy mag so dink as jy wil glo dat mense inherent onskuldig is.  Ek dink ons samestelling is bietjie meer kompleks.  Of daar nou regtig so ’n boom was of nie, ek glo ons het kennis van goed én kwaad.  Daarom het ons vryheid om te kies.  Maar saam met die vryheid kom dieselfde mate van verantwoordelikheid – en dis wat ons nie wil hê nie.  Dis mos heelwat lekkerder om te kan blameer.

In Jakobus se brief verduidelik hy in hoofstuk 2 iets van hierdie ‘wet wat vry maak’.  As ’n mens jou verdiep hierin, kan jy regtig groei en leer.  Indien nie, is jy soos iemand wat na sy eie refleksie in ’n spieël kyk, daarvan wegdraai en dadelik vergeet wat jy gesien het.  Die ironie is natuurlik dat ons so bang is vir die spieël van selfondersoek omdat ons dink dat ons oordeel en verwerping daarin gaan vind, terwyl God eintlik vir ons liefde en vryspraak wil wys.  Hy wil ons wys wie ons gemaak is om te wees – na Sy beeld.  Hierdie ‘wet wat vry maak’ is nie ’n stel reëls wat ons voor God sou aanvaarbaar maak as ons dit onderhou nie.  Dit is juis omdat Jesus my vrygespreek het dat ek kan kies om goed te doen, omdat ek nie meer bang is vir die verantwoordelikheid daarvan nie.  En dít is vryheid.  In die woorde van die teoloog John Baillie:  Die hoogste wet is vryheid; en die hoogste vryheid is wet.

Ek is nie meer bang dat my foute my sal verdoem nie.  Maar ek is ook nie meer bang om te leer uit my foute nie.  Want ek dink dis erger om om en om te swem en dieselfde rympie te herhaal.  En dit terwyl jy dink dat jy êrens heen op pad is.

Dus gaan ek nou maar toelaat dat Bob my pla.  Sy blink lyfie gaan my aan ’n paar dinge herinner in die jaar wat voorlê:  Dat finansiële vryheid direk gepaardgaan met getrou wees aan die begroting.  Dat my selfbeeld nie afhanklik is van wat mense oor my sê nie, veral as hulle my nie liefhet nie.  Dat elke reaksie ook ’n keuse is.  Dat ek maar kan staatmaak op die Here se trou en nabyheid, omdat Hy dit al oor en oor bewys het.  Dat ek nie vir ander mense kan besluite neem nie, maar hulle ook nie kan blameer vir myne nie.

Behalwe vir heelwat meer breinselle as Bob, het ons die Heilige Gees en ’n legio opsies.  Ruik jy die vryheid?