Laat die wind draai

Die wind het gedraai.
Die plek waar ‘n mens woon, het sy eie wind. Hier waar ek nou woon, het die wind invloed. Dit lok vlieërplankryers van oral, verander oefenprogramme, veroorsaak die plasing van spieëls in voorportale. En twee maal per jaar verander dit radikaal van rigting (suidoos/noordwes), telkens om ‘n seisoensverandering duidelik te merk.
Trotseer een maal ‘n Vrystaatse stofstorm buitenshuis en jy weet selfs hoe proe die wind. Om die hoeke van my familie se Karoo-opstal het die wind ‘n stem, ‘n oerskepsel-huil.
‘n Mens kan dit nie sien nie. Maar ons weet wat gebeur, hoe dit lyk en klink en voel, as die wind waai. So, verduidelik Jesus ook vir Nikodemus in Johannes 3, is dit met elkeen wat die Heilige Gees leer ken.
In sommige kringe word gesprekke hieroor verwelkom. Mense raak vurig opgewonde oor die werk van die Gees, en laat ek niemand wat vrug of gawes geniet inhibeer nie. As ‘n mens egter fyn oplet, is daar in elke christelike geselskap ook diegene wat stil raak wanneer die onderwerp aangeroer word. Baie mense is al gemanipuleer en seergemaak deur wat andere aangebied het as die werk van die Heilige Gees. Sommige vind die blote onvoorspelbaarheid (soos Jesus ook na verwys) daarvan net een te veel.
Teoloë probeer eeue lank al die werk van die Heilige Gees karteer – van Augustinus tot Calvyn tot Barton. Hulle vaar glad nie sleg nie, hoor. ‘n Mens kan baie leer van gehoorsaamheid en beweeg saam met die Gees uit ‘n goeie boek. Dit bly egter steeds ‘n slegte alternatief op die ware jakob – Lost City-golwe vir ‘n Jeffreysbaai-surfer.
In een of ander stadium moet jy maar jou seile span en die wind toelaat om jou mee te voer. Anders – dit weet jy daar diep – mis jy dalk die grootste avontuur van Christus: om met Hom te leef, in die moment.
Jesus belowe sy las is lig en sy juk is sag. Hoe sleg kan dit nou wees om te waag om die Gees te volg? Die vrug daarvan is darem allerlei mooi dinge: liefde, vreugde, vrede…
Al bogenoemde is waar. Diegene wat waag om deel te neem, put uit die skatte van die hemel self. Maar in my wandel met mense, in my spreekkamer en langs siekbeddens en in krisisse en teleurstellings, sien ek dikwels die wind draai. Ek sien hoe die Heilige Gees mense ontwrig, stuit en frustreer. Ek hoor hoe Hy dikwels fluister as hulle wil hê Hy moet skree. Ek beleef hoe Hy sy vinger presies op die wonde plaas. Die wind in my eie lewe nou is ‘n herfswind, snerpend koud en sterk genoeg om akkerblare los te wikkel van die bome.
Die fout wat ons kan maak is om te dink dat dit nie die werk van die Gees is nie.
Omdat die werk van die Heilige Gees altyd goed is , dink ons dit moet altyd lekker wees. Feit is: soms het ek nodig om gestroop te word van dinge wat ek as kosbaar ag, maar wat in werklikheid my las verswaar. Ons het nodig dat die Gees ons wonde aanraak, want Hy alleen kan genees wat vir ander lelik en grillerig is. Soms konfronteer God my oor dinge wat moet verander. Ons het juis frustrasie en ontwrigting nodig om te besef: miskien gaan dit nie alles net oor my nie, miskien het God ‘n groter plan, en as ek bietjie van rigting verander, kan ek saamvlieg, saam seil, saam beweeg.
Dus is my voorneme hierdie herfs om die wind sy invloed te gun. Laat hy die motreën waai wat die koringlande gaan groen maak; laat hy die blare loswikkel om plek te maak vir die lentegroen; laat hy draai en swaai net soos hy wil, ek hoef nie te weet waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.

bloublokkie

1 thoughts on “Laat die wind draai

  1. The Rider sê:

    So bly jy skryf weer, ek het jou gemis!

Lewer kommentaar